Effektief 1 April 2023 is daar wysigings aan die volgende wetgewing gemaak met betrekking tot Teengeldwassery en Bekamping van Terrorismefinansiering:
– Wet op die Beheer van Trustgoed, 1988
– Wet op Organisasies sonder Winsoogmerk, 1997
– Wet op die Finansiële Intelligensiesentrum, 2001
– Maatskappywet, 2008
Met betrekking tot die Wet op die Beheer van Trustgoed, 1988, wil ons graag belangrike wysigings aan u kommunikeer.
Hierdie wysigings is onverwags geïmplementeer en selfs die Fidusiêre Instituut van Suid-Afrika kon dit nie bestry nie.
In kort behels dit dat hierdie wetgewing ‘n verantwoordelikheid op trustees plaas om omvattende data aangaande uiteindelike geregtigdes van trusts so spoedig moontlik by die Meester van die Hooggeregshof aan te teken. Enige versuiming hiervan kan tot hewige boetes en in spesifieke gevalle tot selfs tronkstraf lei.
Slegs trustees word toegelaat om die data by die Meester van die Hooggeregshof aan te teken. Die magtiging om die uiteindelike geregtigdes se data namens ‘n trustee aan te teken, mag egter aan ‘n Trust Administrateur gegee word kragtens ‘n volmag van die trustees.
Hier volg meer tegniese inligting aangaande die wysigings tot die Wet op die Beheer van Trustgoed, 1988:
- omskrywings van ‘‘rekenpligtige instelling’’ en ‘‘uiteindelike geregtigde’’ is ingevoeg
- sekere vereistes is aan trustees op gelê
- aangeleenthede is gespesifiseer wat ’n persoon onbevoeg sal maak om as ’n trustee aangestel te word of voort te gaan om as ’n trustee op te tree
- dit is duidelik gestel dat ’n persoon wat buite die Republiek as ’n trustee aangestel is, deur die Meester gemagtig moet word om as trustee op te tree
- daar is voorsiening gemaak vir die verwydering van ’n trustee wat onbevoeg word om voort te gaan om as trustee op te tree
- daar is inligting gespesifiseer wat deur trustees gehou moet word betreffende uiteindelike geregtigdes betreffende trusts
- daar is vereis dat die Meester ’n register hou met inligting oor uiteindelike geregtigheid van trusts
- daar is voorsiening gemaak vir toegang tot inligting rakende uiteindelike geregtigheid
- daar is sekere misdrywe gespesifiseer
Hoekom is die wetgewing verander?
Die doel van die nuwe reëls is om ‘n vorm van deursigtigheid te verskaf aangaande die eienaarskap van trustbates voordat sulke bates, of die inkomste van sodanige bates, in die begunstigdes berus.
Wat is die impak hiervan op trustees?
Ingevolge artikel 11A(1) van die TPCA moet ‘n trustee:
- a) die uiteindelike geregtigde van die trust vestig en aan teken;
- b) rekord hou van die voorgeskrewe inligting met betrekking tot die uiteindelike geregtigdes van die trust;
- c) ‘n register van die voorgeskrewe inligting oor die uiteindelike geregtigdes van die trust by die Meesterskantoor in te dien;
- d) verseker dat die voorgeskrewe inligting soos gemeld in paragrawe (a) tot (c) op datum gehou word
Wie is ‘n ‘uiteindelike geregtigde’?
Wanneer die definisie vir ‘uiteindelike geregtigde’ in die konteks van trusts oorweeg word, sal die definisie in die TPCA van toepassing wees, wat insluit:
– ‘n natuurlike persoon wat direk of indirek uiteindelik die trusteiendom besit;
– ‘n natuurlike persoon wat effektiewe beheer van die administrasie van die trust uitoefen;
– elke stigter van die trust;
– elke trustee van die trust; en
– elke begunstigde waarna by die naam in die stigtingsdokumente van die trust verwys word.
Indien u dus ‘n stigter, trustee of ‘n benoemde begunstigde van die trust is, word u geag ‘n uiteindelike geregtigde te wees.
Paragrawe (c) tot (e) hierbo is onderworpe aan spesiale reëls waar die stigter, trustee of die begunstigde ‘n regspersoon of ‘n vennootskap is.
Watter inligting moet deur ‘n trustee aangeteken word?
’n Trustee moet ’n rekord hou van inligting rakende elke geïdentifiseerde uiteindelike geregtigde van die trust wat insluit: volle naam, geboortedatum, nasionaliteit, ‘n amptelike identiteitsdokument nommer of paspoort nommer, burgerskap, woonadres, adres vir kennisgewings, ander maniere van kontak, belastingnommer (indien van toepassing), klas of kategorie van voordelige eienaarskap, die datum waarop die persoon ‘n begunstigde eienaar geword het, en die datum waarop die persoon opgehou het om ‘n begunstigde eienaar te wees.
Waar die uiteindelike geregtigde ‘n minderjarige is, moet dieselfde inligting vir die wettige voog van die minderjarige verskaf word.
Die trustee moet ‘n gesertifiseerde of geverifieerde afskrif van die amptelike identiteitsdokument of paspoort van elke geïdentifiseerde voordelige eienaar van die trust hou.
Indien u enige Trust Administrasie dienste benodig, is u baie welkom om ons te kontak. Ons fidusiêre span staan gereed om u te help.
Vir meer inligting besoek: https://www.fisa.net.za/new-regulations-issued-under-trust-property-control-act/.
